Karatara



Ek was nog altyd mal oor die idee van `n woud. Ek dink ons almal kom uit `n woud uit - party van ons uit `n bos uit - dit laat my ook dink aan `n tyd toe bome nog bome was. Vandag is bome goedere. As gevolg van hierdie liefde vir bome en skadu's, was ek ook mal oor Fiela se kind en Toorbos. Nooit het ek geweet daardie mense bestaan werklik nie.


Toe ek en my man in 2012 op wittebrood was het ons uit Knysna gery en ek het die "Karatara" -bordjie op die N2 gesien. `n Paar jaar vantevore het ek `n artikel in die By gelees oor hierdie geheimsinnige plek. Nou, ek weet nie van jou nie Leser, maar wat is meer exciting as `n geheimenis?! Die skrywer van die artikel het dit laat klink asof jy nie sommer spontaan daar kan inry nie en dit is toe wat ek wil doen. Ek het dus vir `n paar jaar geglo Karatara is `n plek wat mens moet soek - tussen die bome.


Ons draai toe regs by die bordjie en verbeel vir ons dat ons klaar verdwaal voel. Die teerpad lyk gebleik en langs die pad staan rye en rye Dennebome - wat `n avontuur! 

"Die woud is rêrig! Kyk!"
"Ek is bietjie bang."

Mens verbeel jouself wonderlike goed, al is jy 30 jaar oud voel jy weer soos daardie kind van Fiela se boek. Toe ons weer kyk is ons in Karatara. Daar is nie baie bome nie, dis redelik plat. Al die huise lyk presies dieselfde, die erwe is groot en omhein met ogiesdraad - nie om iemand uit te hou nie, maar eerder om `n kind of `n hond binne te hou. Daar hang wasgoed, alleen, sonder hande om dit af te haal.




Dit is tienuur in die oggend en niks roer in Karatara nie. Die ouetehuis staan leeg. Waar is die mense? Die bosbouers? Fiela? Ons ry deur die dorp en sien dat hierdie plek baie stories het om te vertel. Ek en my man vat die pad terug na die N2 toe in stilte - sonder `n storie.

Daardie aand kan ek nie vinnig genoeg my soektog op Google begin nie. Daar is nie baie inligting oor Karatara nie. Geheim. Karatara bestaan uit Welsyndorp, Bergvallei en Bosdorp - gestig in die 1940's vir die bosbouers en hul families toe die regering hul permitte teruggetrek het.

Daar word ook vertel dat Karatara een van PW Botha se gunsteling plekke was.

35km van die besige Knysna waterfront is daar mense in `n ander wêreld wat nog `n eenvoudige bestaan voer. Ek is mal oor hierdie plek en ek dink baie daaraan. Ek weet nie hoekom nie.






0 comments:

Post a Comment

 

Google+